Posts Tagged ‘Paul Stemmet

06
Oct
09

Bekende familie

Nou goed, ek’s opdrag gegee om so gedurende die week, wanneer ek kans kry, bietjie navorsing oor my familie te doen. Klink maklik; nee glad nie maklik.

Ja, nou goed, almal weet wie Johan Stemmet is en skynbaar is hy my pa se klein neef of iets. So ek het darem tot dusver een bekende familielid gekry, maar delf bietjie verder en niks…. Absoluut niks.

Behalwe vir Johan Stemmet (soos reeds genoem) en Paul Stemmet (nie my broer nie), wat gedurende die 1990’s “bekendheid” verwerf het en nou weereens in die nuus is met die hele Selebi storie, word die Stemmet van maar min raak gesien.  Selfs die Stemmet groep (waaraan ek behoort)  op Facebook is staties en gebeur daar niks nie en ‘sadly’ is dit ook die enigste Stemmet-groep op Facebook.

Was ons ooit deel van die Groot Trek? Het ons ooit iets merkwaardigs gedoen in die geskiedenis van Suid-Afrika. (En nee Noot vir Noot tel nie) Soms wens ek, ek het ‘n maklike van gehad soos Verwoerd. Nou goed, dalk nie altyd die beste van om te hê deesdae nie, maar darem baie makliker om na te vors.

My ma se nooiensvan is nie makliker nie. Koegelenberg. Kom ek Google gou Koegelenberg…  Google: Johannes Christiaan Koegelenberg (my oupa se naam asook die alombekendse familienaam in ons Koegelenberg familie) en raai wat, my blog verskyn eerste op Google.

Kom ons kyk of ek Koegelenberg-groep op Facebook kan vind…  Vind die volgende:

* The Official Koegelenberg Group – met  73 lede. O en wag daar was onlangs (1 Oktonber) lewe op hierdie groep.

En dan is daar ook:

* Koegelenberg Family Tree & Genealogy– met  ‘n volle 21 lede. Laaste aksie op hierdie groep:, 8 September.

So nou het ek darem (soortvan) begin punt vir Koegelenbergs.

Nee wraggies mense, kan ek nie makliker taak asseblief vind om te doen nie. Dit wil voorkom of Stemmet’s en Koegelenbergs ook maar net-net in Suid-Afrika voorkom.

O wag wag, ek het van Francois Stemmet vergeet, ‘n afrikaanse akteur.

Maar was ons deel van die geskiedenis van Suid-Afrika?!

“The search continues” Sal julle op hoogte van sake hou en as daar iemand is wat kan help, moet nie skaam wees om van julle te laat hoor nie.

15
Sep
09

Die Geboorte van die eerste kleinkind – 16 Oktober 2008

Ek hoop nie my broer en skoonsus gee om as ek hierdie artikel skryf nie, maar noem my sommer net ‘n trotse tannie. Aangesien ek en my broer die enigste twee kinders is, is en was daar nogal baie druk vir kleinkinders. Vir my broer seker meer druk as ek, aangesien hy die enigste kleinseun is aan my pa se kant wat die Stemmet van dra en as hy nie seuntjie kon kry nie…wat sou van ons Stemmet naam word?

Iedergeval, so begin laas jaar deel my broer ons mee Chrisma (Chrisma Kriek, sy vrou) is swanger. Daar is groot opwinding want dit sal die eerste klein kind vir my ouers wees, asook vir haar ouers. (Kan julle bederf spel?) Ek aan die anderkant, het gewonder “what’s the big deal” en het my biologiese klok die skuld gegee aangesien dit duidelik nog nie ingeskop het nie en ek geen moederlike instinkte het nie.

Kom ons skip so paar maande. Chrisma is (ek dink so 5 maande swanger) en daar word aangekondig dat sy dogtertjie verwag. Nog meer opwinding en almal begin pienk goedjies koop. Maand later, nog ‘n aankondiging. Dit is nou nie meer ‘n dogtertjie nie. Groot opwinding, almal ruil pienk klere in en koop blou klere.

9 Maande en die tyd is daar vir kindjie om te kom. EK kry die sms die oggend van 16  Oktober wat sê dat Chrisma nou ingaan vir haar keisersnit. Ek sit en hou my selfoon die heeldag dop, die middag kry ek SMS, Paulus Nicolaas Stemmet is gebore. Ek was nog nooit so vinnig in my kar nie, jaag met ‘n spoed deur na die hospitaal, want ek kan nie wag om hierdie dingetjie te sien nie. Kom by die hospitaal aan, haas my na die kraam afdeling en maak reg om vir Paul(tjie) te sien. Maar wat de..hier sit almal dan nog in die wagkamer?! Paultjie is wel gebore maar skoonsus is nog nie by nie en Paul weier om te sê hy’s pa voor Chrisma by is. Goed dan, dan wag ons nog. Nee, ek kan nie so lank wag nie, gaan krap bietjie gat by broer Paul en hy vat my om vir Paultjie te gaan kyk. Ek weet almal sê dit, maar hy was en is wraggies die mooiste pasgebore baba wat ek al ooit gesien het. (En glad nie eers pienk nie) Wel baie baie groot. As ek reg onthou vermoed ek hy het 3.8 kg geweeg.

Vanaf 17 Oktober het hierdie seuntjie al hoe meer in my hart ingekruip en nou dat hy amper ‘n jaar oud is, is hy die oulikse, beste en slimste baba onder die son. Ja, almal sê dit seker, maar ek dink hy is die beste ding wat kon gebeur het in ons familie! (Net jammer vir sy ma wat vir hom Blou Bul klere aan trek) Wil ek een van my eie hê? Ja, eendag as ek ouer en wyser is. Vir tyd en wyl hou tannie Elizca daarvan om vir Paultjie tot in die afgrond te bederf!

20
Aug
09

Die fandamily

My familie blog kan ook gevolg word by: http://stemmet.beta.ancestry24.com/

Ek weet maar weinig min van die Stemmet’s af, maar kom ek begin wat ek weet van die Stemmet’s, dalk is daar iemand daar buite wat kan help om die “gaps” te vul.

Kom ons begin eers by my. My naam is Elizca Stemmet. Elizca is ‘n samestelling van Elizabeth Catariena. Ek het ook ‘n broer genaamd Paul Stemmet.

My moeder is Susanna Johanna Koegelenberg en is gebore in Piketberg. Haar ma en pa was onderskeidelik Elizabeth Catariena Brand en Johannes Christiaan Koegelenberg en het destyds geboer op Wapadsvlei, ‘n Swartland plaas geleë tussen Moorreesburg en Hopefield.

Maar ek sal graag meer wil weet van die Stemmet’s, was ons ooit deel van die Voortrekkers….en nog baie meer!

My pa is Nikolas Andries Spreeth Stemmet (Ek sal in latere blog vertel hoekom die naam Nikolas is en nie Nicolaas is nie) en is gebore in Montaqu. Sy ouers was Adamus Paulus Stemmet en sy ma was Hester Alleta de Waal Spreeth, en het destyds in Wellington gebly.. Hy het 2 pare tweelingsusters (volgens my lyk hulle al 4 dieselfde) en het ook ‘n ouer broer Adolf, ook bekend as Dolf. Toe my pa in sy twintigs was het sy ouers nog ‘n dogter, Pauline aangeneem.

Ok, so dit is ‘n kort opsomming van my familie, volgende blog sal ek die “skinderstorie” vertel hoekom my pa Nikolas heet en nie Nicolaas nie.

Tot volgende keer!




Verskillende dinge op die blog

Ou Goed

E-pos

 

Junie 2012
M T W T F S S
« Jul    
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
252627282930  

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Join 4 other followers


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.